Oct 1, 2010

Tot Siens: Ds. Daan


Ds. Daan van Wyk was ons gemeente se dominee van Februarie 2008.
Ds. Daan het bedank as leraar met ingang 1 September, en gaan voortaan by sy broer se maatskappy op Stellenbosch werk as Bemarker.
Ons wens Daan en sy Gesin 'n voorspoedige nuwe beroep toe!

Ons gemeente is van plan om spoedig 'n nuwe leraar te beroep. Intussen hanteer Di. Elsabe, Jan en Mia die dag tot dag bestuur van die gemeenteprogram.

Aug 11, 2010

Elsabe Bevestiging 1 Aug

Eerste Dowe Leraar in NG Kerk!

Posted by Picasa

Geskiedenis!

Geskiedenis is gemaak op 1 Augustus, toe die Eerste Dowe Leraar van die NG Kerk bevestig is by die NG Gemeente Worcester De la Bat. Vir Elsabé Döman is dit die hoogtepunt in 'n lang reis. Sy het in ...... klaargemaak by De La Batskool, daarna o.a. 'n Videowinkel besit. Na haar bekering, het daar in haar 'n passie gegroei om Dowes te help. Om 'n Dominee te word, was egter nie naastenby binne haar horison nie. Teologiese Kweekskole is nie toeganklik vir Dowes nie. Tog doen het Here 'n soewereine wonderwerk, en in 2006 word DCMA (Deaf Christian Ministry Africa) by die Nasionale Instituut vir Dowes geopen. Dit het egter 'n duidelike Roepingservaring een Sondagoggend in De la Batgemeente gekos voordat sy besef het dat die Here haar vir die bediening roep. Sy skryf in by DCMA, verwerf in 2009 'n vierjaar Gevorderde Diploma in Bybelse Bediening van Veritas Internasionaal, en word, saam met haar klasmaat, Anthony Salie die eerste Dowe gelegitimeerdes in die NG Kerk.

Met haar bevestiging is daar trane op amper elke Dowe gesig. "Pinksterdag het aangebreek vir Dowes, want nou kan ons die Evangelie in ons eie taal sien!" Haar kollegas is net so opgewonde: "Ons staan aan die begin van 'n heel nuwe Era, dié van die Dowe Pastor ", sê Ds. Daan van Wyk "Doof-tot-Doof bediening is soveel meer effektief as Horend-Dowe Bediening soos tot nou, en Elsabé het die ongelooflikste gawe om met kinders te werk. Sy maak my groen van jaloesie!" voeg hy skertsend by.  "Die mense wat sê dat God niemand voortrek nie, was nog duidelik nie in Dowe bediening nie", Sê ds. Mia Lintvelt, een van haar dosente by DCMA. "Wanneer daar Dowes betrokke is, sien ons God se wonderwerke duidelik."
Op die foto is Elsabé besig om die gemeente te lei in Gebaresang: "Jesus Lewe, Loof en Juig!" Saam met haar jubel die hele Dowe wêreld!
Posted by Picasa

Jun 6, 2010

Biddag vir die Ekologie 6 Junie 2010

Toe God die mens gemaak het, het Hy vir ons 'n opdrag gegee :
"Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voels in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg."
Genesis 1:28
Die mens het die eerste deel van die opdrag baie goed gedoen: Die aarde is nou oorvol mense.
Maar die tweede deel: Om die aarde op te pas - dit het die mens nie goed gedoen nie. Ons is hoof van die aarde, en dit beteken dat ons die aarde moet versorg. Maar ons mors dit vuil, maak dit vol gif, roei plante en diere uit. Dit lyk my partykeer mense het verkeerd verstaan: Hulle probeer die aarde uitroei, eerder as oppas!
Kom ons maak saam 'n verskil: Hier is 4 maklike maniere:
  • Spaar: Water, krag, petrol
  • Herwin: Papier, glas, plastiek
  • Minder weggooidoeke vir ons babas
  • Gebruik weer en weer, en gebruik langer.
Kom ons geniet die pragtige Natuur wat God ons gegee het!
Kom ons sorg daarvoor  - elkeen van ons maak 'n verskil!

Jun 2, 2010

Nog fotos van die Doop

Die water lyk nie verniet so fris en skoon nie: Daar was nog sneeu op die Bolandse berge ! Dit was vriesend - verfrissend!

Ons eerste doop met baie water!

Op Sondag 30 Mei het ons ons eerste 5 Dopelinge met baie water gedoop. Hierdie vyf pragtige kinders van die Here is gedoop nadat hulle hulle geloof in die Erediens bely het. Op die Foto is van links  na regs: Lucky, Siyanda, Thobeka, Naledi en Sindisa. Heel regs staan Pumi Jemane, Finalejaar student van DCMA, en hulel geestelike Vader. Ds. Daan staan agter die groep. Bid asseblief vir hulle !